Geskiedenis

GESKIEDENIS

DIE NEDERSETTING AAN DIE KAAP

Die Hugenote aan die Kaap se verhaal begin met ‘n lang geskiedenis van godsdiensoorloë en vervolging in Frankryk.

Na die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 het die VOC besluit om die Hugenote-vlugtelinge aan te moedig om na die Kaap te immigreer om die landbou-nedersetting te versterk. Daar is voorkeur gegee aan setlaars wat wynbouers was of met besonderse vaardighede. Hulle lewensgevaarlike reise oor berge en oseane op soek na ’n nuwe tuiste en lewenswyse in ‘n vreemde land, herinner aan die lot van ander vlugtelinge wêreldwyd.

BESIGTIG ′N KAART VAN DIE HUGENOTE-PLASE
KOOP ’N KAART VAN DIE HUGENOTE-PLASE

MEER OOR

′N KORT GESKIEDENIS VAN DIE HUGENOTE

Die Bloedbad van Vassy in 1562 het twee eeue van vervolging van die Hugenote in Frankryk ingelui.

Vervolging in Frankryk

Tydlyn

Besoekers kan die tydlyn in die middelste gang van die museum volg. Dit begin by ’n Hollandse muurhorlosie wat deur ’n Hugenote-afstammeling gemaak is. Besoekers kan die belangrikste gebeure van die Franse godsdiensoorloë en die beproewinge van die Protestante in Frankryk volg. Hulle verhaal van vervolging word teen die agtergrond van ander plaaslike en globale vervolgings deur die eeue gestel. ’n Besonderse vertoonstuk is twee lampe wat snags gedurende geheime byeenkomste gebruik is.

Le Refuge

Die Protestante in Frankryk het drie keuses gehad: keer terug tot die Rooms-Katolieke geloof, beoefen hullle geloof in die geheim, of vlug landuit. Die Engelse woord ‘refugee’ is gebaseer op die Frans ‘réfugié’, wat terugdateer na 1685, toe dit gebruik is as beskrywing vir die meer as 160 000 persone wat uit Frankryk na nabygeleë nie-Rooms-Katolieke state of lande gevlug het.

Plekke van Oorsprong

Die Hugenpote het uit twee hoof-gebiede in Frankryk en die Suidelike Nederlande gekom. Die een gebied het vanaf Vlaandere tot by die Loire-vallei gestrek, terwyl die ander een in ’n boogvormige gebied vanaf die Dauphiné tot by Languedoc, wat Provence insluit, gelê het . ’n Belangrike faktor was die moeilikheidsgraad van die ontsnaproetes.

Besigtig kaart   |  Koop kaart

Werwing deur die VOC

Die eerste poging tot werwing om die verversingstasie aan die Kaap te werf, was onsuksesvol. As gevolg van die toenemende vervolging van die Protestante was daar ’n goeie reaksie op die tweede werwingspoging. Die aanbod van 60 morg was veral aantreklik vir die vlugtelinge. Alle applikante moes aan streng vereistes voldoen en moes onderneem om vyf jaar lank te bly.

Vlug na die Kaap

Die vlug van die Hugenote na die Kaap het nie, soos algemeen geglo word, slegs gedurende die jare 1688 tot 1689 plaasgevind nie. Hulle het oor ’n tydperk van meer as ’n driekwart eeu na die Kaap die Goeie Hoop gekom om hulle daar te vestig.

Vaart na die Kaap

Die twaalf weke lange vaart was veeleisend en gevaarlik. Die skepe was ongerieflik en die see was onstuimig. Daar was meesal geen vars voedsel nie en ’n tekort aan vars water. Wanvoeding het siektes soos skeurbuik tot gevolg gehad. Baie is dood of het erg verswak gedurende die seereis.

Aankoms aan die Kaap

Die Honselaardsdijk, die eerste van die nege VOC-skepe met Hugenote aan boord het op 11 April 1688 in Tafelbaai anker gegooi. Die vlugtelinge op die skip en dié op die ander agt skepe is erg deur die vaart uitgemergel. Hulle het in Tafelbaai byeengekom en het noodproviand ontvang voordat hulle na die binneland aanbeweeg  het.

Vestiging aan die Kaap

Die meeste Hugenote het grond langs die Berg- en Franschhoek-riviere ontvang. Die ander het landbougrond in die Dwarsriviervallei, die huidige Wellington (Wagenmakersvallei) en Stellenbosch ontvang. Hulle het ook voedselvoorrade, saad en basiese toerusting ontvang. Die VOC se beleid om hulle te assimileer het tot die verlies van hul taal gelei.

Besigtig Kaart   |  Koop kaart

Stryd om oorlewing

Hulle was nie vertroud met die klimaat en die terrein nie en dele van die grond was nie geskik vir weiding en voedselgewasse nie. Weinig van hulle het oor boerdery-vaardighede beskik en hulle het slegs primitiewe toerusting gehad en ook nie oor kapitaal beskik om saad en basiese benodigdhede te koop nie. Verdere probleme was droogte, vervoer van produkte na die mark, veediefstal en onbillike mededinging van die Kompanjie se amptenare.

VERKEN

’N LYS VAN DIE HUGENOTE WAT NA DIE KAAP GEKOM HET

Hier is ’n gedetailleerde Register van al die Hugenote wat na die Kaap gekom het.

MEER OOR

HUGENOTE-SIMBOLIEK

Die nalatenskap van die Hugenote is aan die lewe gehou deur artefakte en konkrete simbole.
Een hiervan was die Hugenote-kruis wat as juweliersware deur die Protestante in die suide van Frankryk gedra is.

Méreaux

Johannes Calvyn het die gebruik van méreaux aanbeveel (gemunte metaalskywe) as identiteitsbewys vir die onderskeiding van die lidmate van die nuwe Hervormde belydenis. Die méreaux is gebruik as tekens wat die gemeentelede toegelaat het om die Heilige Nagmaal te gebruik. Tydens die vervolging het die méreaux bekend gestaan as die medaljes van die kerk van die Désert.

Die Hugenote-kruis

Die Hugenote-kruis is ’n identiteitsimbool vir Hervormde Christene. Die vier arms verteenwoordig die vier Evangelies en die punte van die arms die agt Saligsprekinge. Die fleur-de-lis is ’n simbool van die opstanding van God, die twaalf blomblare simboliseer die Twaalf Apostels en die drie blomblare die Heilige Drie-eenheid. Die vier harte is ’n simbool van die lojaliteit en die liefde van Jesus. Die duif wat neerdaal is ’n simbool van die Heilige Gees.

huguenot_rose_1

Hugenote-roos

Soos die naam Rosa damascene semperflorens aandui, blom die Hugenote-roos dwarsdeur die seisoen. Die Hugenote het die Damask-roos saamgebring en het dit gebruik om welriekende rooswater vir uitvoer na die Ooste te maak. Dit simboliseer ondernemingsgees.

BLY OP HOOGTE

Teken in en ontvang ons jongste Nuusbrief en opdaterings.