MEMORIAL MUSEUM

MEER OOR

DIE HUGENOTE-GEDENKMUSEUM

Die hooftema van die Hugenote-gedenkmuseum in Franschhoek is ‘n herinnering aan die geskiedenis van die Hugenote vóór en ná hulle aankoms aan die Kaap die Goeie Hoop.
Die herontwerpte uitstallings trek ’n verband tussen die geskiedenis van die Kaapse Hugenote en die wêreldwye kwessies van vervolging, vlug, aanhorigheid, identiteit en die nalatenskap van vlugtelinge in hulle nuwe tuistes.

’n Noukeurige opname van die museum se versameling artefakte verskaf ʼn beeld van die Hugenote se bestaan aan die Kaap. Daar kan verskillende interpretasies aan die inhoud van ses vertoonkamers geheg word. Dit reflekteer die stylgeskiedenis en ook die Hugenote se ervarings, eers as vlugtelinge en later as deel van die immigrante-gemeenskap.

MEER OOR

SAASVELD-HEREHUIS

Die nuut-herontwerpte uitstallings bring die geskiedenis van die Kaapse Hugenote in verband met die globale vraagstukke van vervolging en vlugtelingskap

Saasveld-herehuis

Die elegante gebou waarin die museum gehuisves word, is ’n herbouing (met sommige van die oorspronklike boumateriaal) van Saasveld-herehuis, wat in die 18e eeu gebou is. Die befaamde Franse argitek, Louis Michel Thibault, het die huis met ’n Franse neoklassieke styl vir die eienaar, Baron William Ferdinand van Reede van Oudshoorn, ontwerp.

MEER OOR

DIE OU KOETSIERSHUIS EN KELDER

Die twee buitegeboue se plasing stem ooreen met die posisies van die koetsiershuis en die kelder van die oorspronklike Saasveld-herehuis. Die delikate versierings is deur Anton Anreith.

Die eerste Suid-Afrikaanse Parfuum-museum

Dit is die eerste parfuum-museum in Afrika. Dit word in die oorspronklike slawelosie van die Saasveld-herehuis gevestig. Die omvattende uitstallings bevat antieke meesterwerke soos 2 000 jaar-oue Romeinse parfuumbottels. Die parfumerie maak gespesialiseerde parfume en bied byderwetse werkswinkels aan, gelei deur deskundige parfuum-makers. Die kursusse is oop vir die publiek.

Anneks

Die uitstallings in die Museum-anneks vertoon aspekte van die Khoi-Khoi-lewenswyse in die gebied en ook die vroeë geskiedenis van Franschhoek. Van besonderse belang is die versameling persoonlike besittings en meubels van Hugenote-families. Ander uitstallings vertoon die inheemse fynbos van die streek. Daar word ook tydelike uitstallings vertoon.

ONTDEK

DIE HUGENOTE-UITSTALLINGS

Die uitstallings dokumenteer die wrede vervolging van die Hugenote in Frankryk en hulle vestiging aan die Kaap aan die einde van die 17e eeu.

Die volgorde van die uitstallings

’n Noukeurige bestekopname van die museum se versameling meubels, Bybels, silwerware, portrette, porselein en argiefdokumente illustreer die lewenswyse van die Hugenote aan die Kaap. Elke artefak kan op verskeie vlakke interpreteer word en reflekteer die spesifieke stylgeskiedenis asook ’n wyer begripstema.

Die volgorde van die uitstallings in die museum stem ooreen met die beweging van die besoekers en volg ’n historiese progressie:

  • 1. TYDLYN
  • 2. VLUG
  • 3. GODSDIENSTIGE GESKRIFTE
  • 4. TUISTE
  • 5. FAMILIE
  • 6. NALATENSKAP

Vlug

Die Vlug-uitstalling belig die ervarings van die duisende Hugenote wat verkies het om uit hulle land te vlug, een van die grootste emigrasies van die vroeë moderne tyd. Die ontsnappings moes haarfyn beplan word om gevangeneming te vermy.

Die klanksisteem in die vertoonkamer neem die besoeker eers op reis aan boord van ’n skip op die stormagtige oseaan en dan na kalmer, maar steeds onstuimige waters by hulle aankoms. Daar is ’n lys van dié wat by die Kaap aangekom het, met sommige handtekeninge, uit argiefdokumente verkry.

Godsdienstige geskrifte

Nederlandse en Franse Bybels en psalmboeke was die hoofitems wat die Hugenote saamgebring het, of aan die Kaap gekoop het. Die geskrifte wat vertoon word, wys hoeveel waarde aan die besit van ’n eie kopie geheg is. Volgens oorlewering het Pierre Jaubert Bybel no. 2 (gedateer 1672) in ’n brood versteek en uit Frankryk gesmokkel.

Die Bybels wat uitgestal word beklemtoon die rol wat die drukpers gespeel het by die verspreiding van die Evangelie in Europa en suidelike Afrika.

Tuiste

In die ruwe grensgebiede het die Hugenote nuwe identiteitsgrense tot stand gebring ten opsigte van die VOC-owerhede, hulle mede-vryburgers, die inheemse inwoners van die streek en die Oosterse slawe, wat later deur hulle besit is. Die eerste wonings was basies ̶ hulle moes die meeste huise van meet af aan bou ̶ heel anders as hulle vorige wonings. Die museum se versameling stoele weerspieël hoe die huise al gaande geriefliker geword het. Die komplekse verhale van hoe hulle deel van die diverse sosio-kulturele landskap geword het, is inspirerend.

Familie

Familiebande, aan die Kaap en elders, was baie belangrik vir die Hugenote. In teenstelling met die Hugenote wat hulle in Engeland, Ierland en in die Atlantiese kusgebiede gevestig het, kon die Hugenote nie maklik kontak behou met die mense oorsee nie.
Die garing waaruit die dooprokke wat in die Familie-uitstalling vertoon word, gemaak is, is simbolies van hoe die Hugenote permanent en onontbeerlik ’n integrale deel van Suid-Afrika geword het. Groot families soos die Nels en Jordaans is bewys hiervan.

Nalatenskap

Die Hugenote is binne ’n kort tydjie geassimileer. Tog het hulle en hulle nasate ’n belangrike en omvattende bydrae tot Afrikaans, godsdiens, kuns en kultuur, sport, die regstelsel en die ekonomie, veral die wyn-industrie in Suid-Afrika gelewer. Dit is egter die innerlike krag van hierdie vlugtelinge, wat hulle in staat gestel het om vir menseregte te veg het en ontberings te bowe te kom, wat aan hulle rol in Suid-Afrika en elders spesiale betekenis gee.

BLY OP HOOGTE

Teken in en ontvang ons jongste Nuusbrief en opdaterings.