Navorsing

EWEKNIE-GEËVALUEERDE ARTIKELS

DREYER, W.A. 2015.
South Africa: The early quest for liberty and democracy. HTS Theological Studies, vol. 71(3)

FOURIE, J. & VON FINTEL, J. 2014.
Settler skills and colonial development: The Huguenot wine-makers in eighteenth-century Dutch South Africa. The Economic History Review, vol. 67(4)

FOURIE, J. & VON FINTEL, D. 2012.
“The Fruit of the vine: An augmented endowments-inequality hypothesis and the rise of an elite in the Cape Colony” in Amsden, A., Robinson, J. and DiCaprio, A. The Role of Elites in Development. WIDER series on Economic Development. Oxford University Press.

COERTZEN, P. 2011.
The Huguenots of South Africa in documents and commemoration. NGTT, vol. 52(3)

COERTZEN, P. 2011.
The Huguenots of South Africa in history and religious identity. NGTT, vol. 52(1)

FOURIE, J. & VON FINTEL, J. 2011.
‘n Ongelyke Oes: die Franse Hugenote en die vroeë Kaapse wynbedryf. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, vol. 51(3).

FOURIE, J. & VON FINTEL, J. 2010.
An Unequal Harvest: The French Huguenots and early Cape wine-making. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, vol. 51(3), p.332-353.
English summary available here.

FOURIE, J. & VON FINTEL, J. 2010.
Settler skills and colonial development: The Huguenot wine-makers in eighteenth-century Dutch South Africa. The Economic History Review, vol. 67(4).

BRITS, D. 2009.
The French refugees in 20th century South African historiography.

D’ASSONVILLE, V.E. 2003.
The angle of incidence of Paul Roux’s catechism – a study on the theology of a French refugee at the Cape: research. Acta Theologica, vol. 23(2)

PLOEGER, J. 1988.
Die verspreiding van die Franse Hugenote. South African Journal of Military History, vol. 18(2)

PLOEGER, J. 1973.
Die godsdienstig-kulturele bydrae van die Hugenote tot die Afrikaanse volkswording. HTS Teologiese Studies, Vol. 29(1/2)

MUSEUM BOEKESTAANDER STORIES

1. Die lys van Bybels, psalmboeke en ander boeke wat in die inventaris gelys is
LEES LYS HIER
2. Jean en Gabriel Leroux (Le Roux)
Die Le Rouxs in Suid-Afrika stam van twee broers, Jean en Gabriel Leroux, afkomstig van Mer in die Orléanais af. Hulle moes onder dwang hulle Hervormde geloof in Blois afsweer, saam met Gabriel se moeder, die weduwee Anne Bourdon. Nadat hulle na die Nederlandse Republiek ontsnap het, het die twee broers en Estienne Bruère (ook uit Mer) hulle afswering op 25 Junie 1687 openlik herroep. In April 1688 arriveer hulle aan die Kaap op die Voorschooten. Die plase Parys en La Concorde aan die Bergrivier naby die Paarl is aan Jean en Gabriel toegeken. Hulle het albei ongelukkig op tragiese wyse in 1711 verdrink. Die oorsteek van riviere wat in vloed was, was destyds een van die grootste risiko’s aan die Kaap.
3. Pierre Labuscaigne (Labuschagne) and Marie Anne Bacot
Pierre Labuscaigne het in 1696 uit sy tuiste in Bergerac in Frankryk gevlug en skuiling in Amsterdam gesoek. In Julie 1697 het Pierre ’n lidmaat van die Waalse Hervormde gemeente in Amsterdam geword. Soos sy vader en sy oom was hy ’n kleremaker. Hy het na Enkhuizen verhuis en is daar getroud met Marie-Anne Bacot van Leeuwarden in Friesland. In 1710 sluit hy as tamboerslaner by die VOC aan en vaar in 1711 na Batavia met die voorneme om met die retoervloot weer na sy kinders terug te keer. Hy word egter so seesiek dat hy by die Kaap aan land moet gaan. Ná sy ontslag uit die hospitaal word hy aangestel as leermeester vir Jacques de Villiers se kinders op die plaas La Brie. Later onderrig hy Pierre Jaubert se kinders op La Provence en daarná dié van Phillipe Mesnard op Calais.
In 1716, terwyl nog in diens van die VOC, word hy aangestel as koster van die Drakenstein-gemeente. Die plaaslike Hugenote-gemeente het grond aan hom beskikbaar gestel vir die bou van ’n woning. In 1717 kon sy familie uit die Nederlandse Republiek uiteindelik by hom aansluit en is hy uit die VOC ontslaan. In 1723 het die Politieke Raad uiteindelik aan hom eienaarskap van die grond waarop hy reeds sewe jaar gewoon het, verleen. Die familie het die eiendom in ’n wynplaas, Pontac in die huidige Paarl, omskep. Hy is in 1742 oorlede en Marie Anne die jaar daarná.
4. Paul and Jeremias Roux
Hoewel sy geskrewe Frans nie so goed soos dié van Pierre Simond was nie, het Paul Roux daartoe bygedra om die Hugenote se Franse Protestantse godsdienstige en kulturele praktyke in stand te hou. Hy word op 8 November 1688 as koster en voorleser (voorlezer) van die Drakenstein-gemeente en ook as skoolmeester aangestel. Hy het die doopregister tussen 1694 en 1713 nougeset in Frans op datum gehou. Ná 1713 is die rekords in Nederlands gehou.
Paul Roux het die Johannes d’Outrein (1622 -1722) kategismus aangepas as die Paulus Roux: Belijdenis des Geloofs kategismus en dit gebruik om jong mense voor te berei vir kerklidmaatskap. Tot sy dood op 23 Februarie 1723 was hy ook diaken en sieketrooster. Ná sy dood kon 26 bejaarde, eentalige Hugenote nie meer in Frans aanbid nie.Paul Roux se seun Jeremias Roux het toestemming ontvang om ʼn Franse skool te begin. Hy was soos sy vader vir ’n paar jaar lank koster en het soms uit die Franse Bybel tydens die kerkdiens gelees.

5. Die Jourdan- (Jordaan) familie
Die verhaal van die Jourdans se vlug toon hoe sterk die invloed van familie-netwerke in die Luberon se Aigues-vallei was. In Oktober 1685, twee jaar nadat hulle die Hervormde geloof afgesweer het, besluit die Jourdans, Marie, Jean, Paul, Piere (Saint-Martin) en Pierre (Cabrières), om Frankryk te verlaat ten einde ’n heenkome in die Nederlandse Republiek te vind. Ander families uit Luberon soos die Jauberts, Courbons, Granges, Rouxs, Malans en Mesnards sluit by hulle aan. Onderweg ontvang hulle hulp in Genéve en in Frankfurt. Saam met 35 ander Hugenote-vlugtelinge verlaat hulle op 2 Maart 1688 Goeree aan boord die China en arriveer op 4 Augustus in Tafelbaai. Jean en Pierre, twee broers uit Belle Étoile, Saint-Martin de la Brasque, en Pierre Jourdan uit Cabrières-d’Aigues (nie verwant nie) was die enigste Jourdans wat die tog oorleef het.

6. Jean-Prieur Duplesis (Du Plessis)
Jean-Prieur Duplesis is in 1638 in Poitiers in die Poitou-Charente-streek van wes-sentraal Frankryk gebore. Die Koninklike Verordeninge van die 1680s het veroorsaak dat hy, as aanhanger van die Hervormde geloof, nie meer as barbier-sjirurgyn kon praktiseer nie. Jean-Prieur verlaat Frankryk in 1687 en reis na die Frans-Karibiese eiland Saint Christopher. Hy trou in Junie 1687 op ’n naburige eiland met Madeleine Menanteau, ook uit Poitiers. Kort ná hulle huwelik is hulle na die Nederlandse Republiek.

Die paartjie vertrek op 29 Januarie 1688 van Wielingen aan boord die Oosterland. Hulle seun. Charl, wat ter see gebore is, is 18 April 1688 aan boord gedoop. Die familie het sewe dae later by die Kaap aangekom. Hulle het hulle in Stellenbosch gevestig, waar Jean-Prieur as ’n barbier-sjirurgyn praktiseer het en deeltyds geboer het. Omdat hy nie sy vrou en twee kinders kon onderhou nie, het hy versoek om aan die einde van sy kontrak saam met sy familie na Europa terug te keer. Die VOC het aan hom uitstel vir die betaling van die passaat verleen. Die familie het op 12 Junie 1693 aan boord die Sirjansland na Veere in Zeeland vertrek. Die familie was ’n tyd lank in Ierland waar hulle dogter, Judith, gebore is.

In 1702 keer Jean-Prieur Duplesis terug na die Kaap met sy tweede vrou, Marie Buisset (41 jaar jonger as hy), en hulle vestig hulle in die Banghoek-vallei by Stellenbosch. Hy is ses jaar later oorlede op 7 Desember 1708 op ouderdom van 70. Sy oudste seun Charl, wat deur sy vader as barbier-sjirurgyn opgelei is, het aan die Kaap en Drakenstein van 1712 tot sy dood in 1737 gepraktiseer. Marie Buisset was ’n gekwalifiseerde vroedvrou en het ook lykskouings aan die Kaap uitgevoer.

7. Die Vivier(Viviers)-broers
Die drie Vivier-broers uit Normandië, Abraham, Jacques en Pierre, was in bannelingskap in Zierikzee, Zeeland voordat hulle op 24 April 1688 aan boord van die Zuid-Beveland na die Kaap vertrek het. Soos baie vlugtelinge het hulle skenkings van die Waalse kerk ontvang. Die laaste opgetekende skenking was op 28 Maart 1688 “vir die drie vertrekkende Viviers”. Abraham het op 41-jarige ouderdom met die 16-jaar oue Jacquemine des Prez getrou. Hy was die enigste een van die broers wat ’n huwelik aangegaan het. Hy en Jacquemine was dus die stamouers van die Viviers-familie in Suid-Afrika. Van hulle nege kinders het agt volwassenheid bereik. Die drie Vivier-broers het tydens die pokke-epidemie van 1713 omgekom. Jacquemine is ’n jaar later oorlede op ouderdom van 36. Haar oudste seun was 18 jaar oud en hulle jongste dogter, Anna, is Januarie dieselfde jaar in Drakenstein gedoop. Anna se peetouers, Marie-Jeanne des Près (Jacquemine se suster) en haar man, Jacques Therond, het die verantwoordelikheid op hulle geneem om die vyf Vivier-dogters groot te maak.

8. Jacques (Jacob) Bisseux en Marie Lefebvre
Toe die vervolging van Hugenote in Frankryk hewiger geword het, het Jacques (Jacob) Bisseux, ’n bakker uit Pikardië, na Middelburg in Zeeland gevlug. Jacques en sy vrou, Marie Lefebvre, hulle twee seuns en die Bisseaux-familie het op 26 April 1696 van Wielingen aan boord die Vosmaar vertrek.

Gedurende die rampspoedige seevaart is 94 persone dood, insluitende vyf van die tien Hugenote wat aan boord was. Die dood van Jacques en Marie se seun, Paul, verskyn in ’n inskrywing onder 7 September in die skeepsjoernaal. Marie is oorlede kort ná hulle aankoms aan die Kaap. Jacques het as ’n bakker en kruidenier gewerk en is in 1700 met Isabeau Pochox getroud.

9. André Mellet
André Mellet uit Nîmes het in 1731, kort na sy huwelik met Marie Gautier, aan die Kaap aangekom, vergesel van Marie se oom, die handelaar Gilles Soullier (Sollier) en sy vrou Anne Roulain. Mellet het hom in Tafelvallei gevestig waar hy as ‘n bakker gewerk het en ’n gastehuis, wat baie gewild onder Franse besoekers was, bedryf het. In 1748 is hy na Nederland gerepatrieer omdat hy met gesteelde goedere handelgedryf het.

10. Pierre Grange (La Grange)
Pierre Grange verlaat sy tuisdorp, Cabrières-d’Aigues, ná die Edik van Nantes. Soos die ander Protestantse vlugtelinge uit die Luberon ontsnap Grange en sy neef, die messelaar Louis Courbon oor die Alpe na die Switserse kantons. Vandaar volg hulle ’n noordwaartse roete al met die Rynvallei langs tot in Frankfurt. Hoe erg hulle ontberings was, blyk uit die feit dat, met hulle aankoms in Frankfurt, Louis Courbon nie meer skoene aan sy voete gehad het nie. Pierre en sy neef het albei die rampspoedige vaart op die China oorleef en het as messelaars aan die Kaap gewerk.

11. François Guillaumé (Giliomee)
Die Hugenoot François Guillaumé (ook Guillaumet) was ’n kleremaker uit Berlyn, wat die Languedoc as kind verlaat het. Hy het saam met sy vrou, Claudine Eloy, en hulle vier kinders na die Kaap gekom om ’n sy-industrie tot stand te bring. Ten spyte van sy uiterste pogings het probleme met die kweek van moerbeibome en die uitbroei van sywurm-eiers die projek laat skipbreuk lei. In 1732 het hy die projek laat vaar en ’n vryburger van Stellenbosch geword. Matthieu, sy seun, het nog ’n paar jaar volgehou, voordat hy ’n grofsmid en kleinboer by Vlottenburg, Stellenbosch geword het.

12. Suzanne Briet
Suzanne Briet was die dogter van ’n familie wynboere in Monneaux in die historiese Champagne-streek. Sy is getroud met die hoedemaker Isaac Taillefert uit die naburige dorpie Château-Thierry. Isaac en Suzanne met hulle ses kinders het in April 1688 aan boord die Oosterland gearriveer. Aan die Kaap het hy sy beroep as hoedemaker voortgesit.

In 1689 word die plaas Picardie op die Bergrivier in die Paarl aan Isaac toegeken en sy seun Jean kry die aangrensende plaas La Brie (Laborie), genoem na sy plek van herkoms. Die plase is as een eenheid bedryf. Die Franse avonturier François Leguat het in 1698 by die plaas aangedoen tydens sy besoek aan die Kaap. In sy reisjoernaal wat in 1708 gepubliseer is, verklaar Taillefert: “He has the best wine in the country, and which is not unlike our small wines of Champagne”. Ná haar man se dood het Suzanne Briet die boerdery voortgesit ─ op ’n suksesvolle wyse, geoordeel aan die opgaafrolle. In 1700 was daar 36 stuks vee en 12 000 wingerdstokke op haar naam. Teen 1709 het sy 80 stuks vee, 400 skape en 20 000 wingerdstokke gehad en het sy haar produksie van koring verdubbel.

13. Jean Durand (Durand, Du Rand, Du Randt)
Jean Durand was ’n barbier-sjirurgyn uit die dorpie La Motte-Chalancon in die Drôme-distrik. Hy het waarskynlik omstreeks 1687 uit Frankryk gevlug. Onderweg het hy bystand in Genève, Schaffhausen en uiteindelik in Amsterdam ontvang. In August 1688 het hy uit Texel aan boord die Wapen van Alkmaar vertrek en het in Januarie 1689 aan die Kaap gearriveer. In 1702 is Jean Durand getroud met die 16-jarige Anna Vermeulen, dogter van Jan Vermeulen uit Utrecht en Catharina Opklim van Bengale (’n bevryde slaaf). Die sieklike Anna is in 1713 oorlede. Die egpaar het twee dogters gehad: Johanna en Susanna. Jean se tweede huwelik was met Wilhelmina van Zijl, die 18-jarige dogter van sy buurman. Jean en Wilhelmina het ses kinders gehad. Die Durand-bloedlyn is deur twee seuns Jan en Jonathan in Suid-Afrika voortgesit.

14. Gidéon Malherbe
Gidéon Malherbe het in 1688 uit Normandië aan boord die Voorschooten aan die Kaap gearriveer. Hy trou met Marie Grillon van die Kommune van Mer, naby Blois. In 1694 ontvang hy Normandie, ’n plaas naby Lormarins in Drakenstein, maar dit is eers in 1713 aan hom toegeken.
Gidéon se posisie word tussen 1700 en 1715 aansienlik versterk deur die erflating van sy goeie vriend Philippe Drouin. Philippe se vader het ook al sy besittings, insluitende die plaas De Groene Fonteyn in die Wagenmakersvallei aan hom oorgedra. Soos baie mans aan die Kaap het Phillipe Drouin oujongkêrel gebly. In 1705 was die meerderheid manlike setlaars oor vroulike setlaars groter as in 1682. In areas soos die Drakenstein was daar vir elke 100 vroue 227 mans.

15. Jacques Malan en Isabeau Le Long
In 1688 het Jacques as 16-jarige weeskind aan boord die China gearriveer. Soos dikwels die patroon aan die Kaap, was ’n weduwee die rede vir sy vinnige ekonomiese en sosiale vordering. Toe hy in 1699 met Isabeau le Long, Jean Jourdan se weduwee, trou, het hy toegang tot heelwat kapitaal verkry. Daarmee kon hy tussen 1702 en 1733 eiendom bekom en is hy en sy familie op die pad na aansien en sukses geplaas. Die egpaar het hulle op die plaas La Motte (naby die Hugenote-monument) in Oliphantshoek (Franschhoek) gevestig. Jacques het tussen 1702 en 1733 minstens 12 plase gekoop en ook twee erwe in Tafelbaai. Gedurende hierdie tyd het hy ook van die eiendomme teen ’n wins verkoop.
Met die afsterwe van sy vrou 1736 is Jacques Malan se netto waarde op meer as 86 000 gulde geskat. Binne een geslag het die Hugenote-weeskind tot ’n baie welgestelde lid van die Kaap se hereboere gevorder. Dit toon aan hoe dit aan die Kaap moontlik was vir ʼn Hugenote-vlugteling, met ʼn aanleg vir ondernemingsgees én die vermoë om ʼn winsgewende transaksie raak te sien, om op die ekonomiese en sosiale leer te klim. Jacques en Isabeau is albei onder die vloer van die NG-kerk (Moedergemeente) in Stellenbosch begrawe.

16. Sara Vitu and Jacques Delporte (Delport)
Sara Vitu uit Guînes (Wijnen) in Pikardië en haar eggenoot, Jacques Delporte (gebore naby Lille in Vlaandere), arriveer in April 1699 aan boord die Kattendijk aan die Kaap. Hulle vestig hulle in Drakenstein waar Jacques as ’n knecht werk. Teen 1707 was Jacques in die diens van Pierre Cronier op die plaas Versailles in die Wagenmakersvallei. In 1721 is die plaas Dekkersvlei aan Jacques toegeken. Hy was nie ’n baie suksesvolle boer nie en hy en sy familie moes finansiële steun van die Drakenstein-gemeente ontvang. Sara het in 1710, 1713 en weer in 1716 ’n bedrag van 36 gulde ontvang omdat hulle te arm was om hulle ses kinders te kleed. Sara is in 1724 oorlede en Jacques in Desember 1739.

17. Pierre Jaubert (Joubert) en Isabeau Richarde
Pierre Jaubert en Isabeau Richarde was stellig die suksesvolste van die Hugenote-boere. Pierre het in 1685 uit Frankryk na Switserland gevlug, al met die Ryn langs tot by Rotterdam. Hy was 24 jaar oud toe hy in Augustus 1688 aan boord van die China van Rotterdam aan die Kaap aangekom het. Daar was 175 passasiers op die China, waarvan 28 Hugenote-vlugtelinge was. Negentien van die passasiers, insluitende 13 Hugenote-vlugtelinge uit die Luberon, is ter see oorlede. Onder hulle was Jaubert se eerste vrou (Suzanne Reyne) en Isabeau Richarde se eggenoot (Pierre Malan). Toe die skip in Tafelbaai anker gooi was daar 50 siekes aan boord.

Pierre Jaubert is onderweg na die Kaap met Isabeau Richarde getroud. Pierre en Isabeau het in 1694 die plaas La Provence in Oliphantshoek ontvang en het daar gewoon tot Pierre se dood in 1732. Hulle het talle ander plase in die Drakenstein en die Land van Waveren gekoop. Met sy dood, 44 jaar na sy aankoms aan die Kaap, het Pierre en sy vrou 14 plase en ’n dorpshuis in die Kaap besit. Hulle het van die diens van sewe skoolmeesters gebruik gemaak vir hulle 11 kinders se opvoeding. Isabeau het tien jaar lank na Pierre se dood voortgegaan met die boerdery. Pierre se Bybel word uitgestal onder die ‘Bybelse Dokumente’ (Bybel No.2).

18. Marie Mouton en Titus van Bengale
Net 9 jaar oud, het Marie Mouton op 20 Julie 1699 saam met haar ouers, Jacques Mouton en Marie de Villiers, en susters Madeleine en Marguerite aan boord die Donkervliet vanaf Middelburg aan die Kaap aangekom. Haar moeder is kort daarna oorlede en Jacques moes alleen na sy jong familie omsien.

Op ouderdom van 16 is Marie getroud met Frans Jooste wat 15 ouer as sy was. Marie het sy opstal aan die voet van die Elandskloofpas betrek, nie ver van haar ouers se plaas in die Land van Waveren in die Vier en Twintig Rivieren gebied nie. In 1714 word sy beskuldig van die moord op haar man met die hulp van twee slawe, Titus van Bengale en Fortuijn van Angola. ’n Rare stukkie detail wat tydens die verhoor na vore gekom het, was dat Jooste se lyk in ’n erdvarkgat op die rand van ’n koringland op die plaas begrawe is.
Marie het tydens die hofsaak getuig dat haar eggenoot haar mishandel het en dat sy nege jaar lank geen nuwe klere van hom gekry het nie. Ooggetuies het getuig dat Marie Mouton en Titus van Bengale in ’n liefdesverhouding betrokke was en in die tyd was die moord op Marie se man voorafgegaan het,’n seksuele verhouding gehad het. Marie se tydgenote was geskok oor haar losbandige en moorddadige dade. Sy is vir die moord ter dood veroordeel. Ander Hugenote-vroue wat intieme verhoudings met hulle slawe gehad het en deur die kerk onder sensuur geplaas is, was Suzanne de Puis in 1716 en Cecilia du Preez in 1765.

Marie, Titus en Fortuijn het swaar en wrede strawwe ontvang. Marie Mouton was die enigste blanke vrou wat in die agtiende eeu aan die Kaap tereggestel is.

19. Jean Duthuilé
Toe die plaas Hexenberg in die Wagenmakers-vallei in 1699 aan Jean Duthuilé toegeken is, het die toekoms aan die Kaap vir hom veel belofte ingehou, soos vir ander Hugenote. Hy moes egter die binneland in vlug nadat een van sy slawe en ’n Khoi-Khoi-arbeider dood is, veroorsaak deur straf wat Jean hulle toegedien het. Hulle is van die diefstal van sleutels verdink. Hy is in absentia skuldig bevind en ter dood veroordeel. Duthuilé het in 1718 sy herverskyning in Londen gemaak.

20. Charles Marais en Edischa
Charles Marais, ’n lidmaat van die Le Plessis Marly gemeente naby Longvilliers in die Hurepoix-streek van die Île de France, het in April 1688 aan boord die Voorschoten gearriveer met sy vrou, Catherine Tabourdeux, en hulle vier kinders. Marais het sy plaas in die Drakenstein Le Plessis Marle genoem (tans Plaisir de Merle) na sy plek van herkoms. ’n Jaar ná hulle aankoms het Charles ’n woordewisseling gehad met twee Khoi-Khoi-mans, Edischa en Rooman (lede van Kaptein Jantjie se stam in die Drakenstein-gebied). Hulle het wilde amandels in die veld agter Simonsberg gesoek en op groen waatlemoene op Marais se plaas afgekom. Marais het hulle belet om dit te pluk, maar Edischa het Charles se bevel verontagsaam en Marais met stukke waatlemoen en klippe gegooi toe hy vind dat die waatlemoene groen en smaakloos was. Een van die klippe het ’n slagaar in Marais se linkerlies geskeur en tot sy dood vyf dae later gelei. Edischa is ter dood veroordeel, maar is aan sy stam oorhandig wat hom met stokke doodgeslaan het.

21. Estienne en Pierre Cronier en Matthieu Frachasse
Die broers Estienne en Pierre Cronier het in 1707 op Pierre se plaas betrokke geraak in ’n skermutseling met Khoi-Khoi-arbeiders en twee van die arbeiders is noodlottig gewond. Pierre se pleit van selfverdediging (in Frans) is nie deur die Politieke Raad aanvaar nie. Die vonnis van 25 jaar bannelingskap is egter nooit uitgevoer nie. Dit is in teenstelling met die lot van Matthieu Frachasse van Lourmarin in die Luberon wat in 1711 uit die Kaap verban is omdat hy vee by die Khoi-Khoi gesteel het.

22. Matthieu Amiel en Hoofman Dorha
Die Kompanjie het ruilhandel tussen die vryburgers en die Khoi-Khoi verbied omdat hulle monopolie in die handel van vee wou behou. Baie koloniste het die verbod geïgnoreer en onwettig handelgedryf. Matthieu Amiel van die plaas Terra de Luc in die Olifantshoek het teen vergoeding (in die vorm van beeste en skape) akkommodasie aan die oortreders verskaf en as hulle gids oor die berge opgetree. Kaptein Dorha, ook genoem Claas, het in Januarie 1696 die onwettige ruilhandel aan die Kompanjie gerapporteer. Toe dit tydens die ondersoek aan die lig kom dat die Hugenote meer vee as die Kompanjie besit, was die Kompanjie-amptenare ontstoke.

23. Gérard Hanseret
Gérard Hanseret was met Gabrielle Wavrand getroud. Hulle het sonder kinders na die Kaap gekom, want hulle seun is klein dood en hulle dogter, Marie-Gabrielle was reeds ’n volwassene met hulle vertrek uit Europa. Gérard was ’n messelaar in Stellenbosch en het in vennootskap met Pierre Rochefort op die plaas Vlottenburg geboer. Dit wil voorkom asof hy bande met sy tuisdorp, St Omer in Artesië, behou het aangesien baie van sy familie en vriende daar in sy testament genoem is. Hy het in 1718 na Europa teruggekeer.

Om die reiskoste van die Hugenote se na die Kaap te verhaal, het die VOC vereis dat die immigrante minstens vyf jaar lank aan die Kaap bly.

24. Lys van Hugenote wat die Kaap verlaat het (in xl sigblad)

LEES LYS HIER

25. Marie Buisset
Maria Buisset, 'n gekwalifiseerde vroedvrou, was die eerste vrou wat 'n lykskouing aan die Kaap gedoen het. Sy het in 1702 gearriveer as die tweede vrou van Jean-Prieur Duplesis, 'n barbier-sjirurgyn. Na die dood van haar man het sy as vroedvrou aanhou praktiseer en die boerdery aan die gang gehou. Ter selfbeskerming het sy twee pistole en ammunisie op 'n veiling gekoop. Sy was bekend daarvoor dat sy alle pasiënte behandel het, vreeslose forensiese verslae geskryf het en selfs siek slawe te perd na haar huis geneem het. Sy is in 1711 met nog 'n barbier-sjirurgyn, Dietrich Schnitt, getroud en het hom met sy werk bygestaan.

26. Louis Fourié
Louis Fourié het in 1689 uit Pontaix in die Dauphiné aan die Kaap aangekom. Hy trou in 1694 met Suzanne Cordier, uit die Orléanais. Na haar dood trou hy in 1716 met Anne Jourdan. Anne was 18 jaar oud, drie jaar jonger as sy oudste dogter. Louis was vader van 21 kinders, waarvan tien (ses dogters en vier seuns) uit sy eerste en 11 (vier dogters en sewe seuns) uit sy tweede huwelik was. In 1699 het Louis die plaas De Slange Rivier in Wagenmakersvallei bekom. Teen 1707, was daar al ’n klein Hugenote-kolonie van 19 volwassenes op aangensende plase.

27. Jeanne de Clercq
Op 26 April 1688 het Jeanne (Jannetjie) de Clercq op die Oosterland aan die Kaap aangekom saam met haar moeder en broers. Sy is met André Gauche getroud, wie se eerste eggenote, Jacqueline Décre, en haar dogter in 1691 in Europa of onderweg na die Kaap oorlede is. André het in 1698 ’n gewelddadige dood gesterf en Jannetjie agtergelaat met vier van haar eie kinders en ’n stiefseun Steven. Dieselfde jaar is sy met die gewelddadige Pieter Becker getroud. Becker is tot vier jaar dwangarbeid op Robbeneiland gevonnis en uit die Kaap verban, weens die barbaarse behandeling van sy slawe. Jannetjie was betrokke in 'n buite-egtelike verhouding met ’n VOC-korporaal, Mattheus de Maker, wat tot die geboorte van 'n dogter, Johanna, gelei het. In 1715 het sy en Becker geskei. Omdat sy weer verwagtend was, met reeds nege kinders, is ’n leenplaas in die Land van Waveren (Tulbagh) aan die noord-oosgrens van die kolonie aan haar toegeken. Daar is geoordeel dat sy ’n suksesvolle boer was en sy het die grondbrief ontvang vir Straatkerk, vernoem na haar dorp van oorsprong in Zeeland (Serooskerke, ook genoem Straatkerke).

28. Marguerite-Thérèse de Savoye
Marguerite-Thérèse, in Gent in die Suidelike Nederlande gebore, was die dogter van die welgestelde handelaar Jacques de Savoye. Sy het op 25 April 1688 saam met haar gesin aan die Kaap aangekom. Sy trou met Christoffel Snijman (Snyman), wat in 1688 as slawekind gebore is. Christoffel was die buite-egtelike kind van die soldaat, Hans Christoffel Snijman, en Catharina van Paliacatta (bekend as Groote Catrijn), die eerste vroue-bandiet wat na die Kaap verban is. Gedurende die VOC-bewind aan die Kaap kon Europese immigrante met vrygestelde vroulike slawe, wat gedoop was, trou. Hulle gemengde afstammelinge is in die vryburger-gemeenskap geassimileer. Marguerite-Thérèse en Christoffel se huwelik was die eerste voorbeeld van ’n huwelik van man van gemengde afkoms met ’n wit vrou. Sy en haar man, wat nege kinders gehad het, was die stamouers van die Snyman-familie in Suid-Afrika. Nadat Christoffel in 1705 oorlede is, is sy met Henning Villion (Viljoen) getroud en uit die huwelik is nog vier seuns gebore wat die Henning-tak van die Viljoen-gesin voortgesit het. Haar dogter, Catharina Snijman, is met Henning se broer, Johannes, getroud en hulle word die stamouers van hierdie tak van die Viljoen-familie.

29. Anne Prévost
Anne Prévost, wat in 1681 in Marck, Calaisis gebore is, is die stammoeder van die Van der Merwe-familie. Anne was sewe jaar oud toe sy saam met haar ouers, Charles Prévost en Marie Lefebvre, en haar broers, Abraham en Jacob, en suster, Elizabeth, na die Kaap gekom het. Hulle het in Junie 1688 aan boord die Schelde gearriveer. 'n Tweede broer, Jacob, is ter see gebore. Haar vader is 'n maand later oorlede en haar moeder het nog drie keer getrou: met Hendrik Eckhoff, Louis de Péronne en Hercule des Prés jr. Anne was 15 jaar oud toe sy met Schalk Willemsz van der Merwe getrou het. Tussen 1697 en 1725 is uit die huwelik tien seuns en ses dogters gebore. Haar eerste kind is gebore toe sy 16 jaar oud was en haar 17de op 44-jarige ouderdom. Anne se dogter, Sophia van der Merwe, is die gemeenskaplike voorouer in die voorouerlike lyne van persone met die genetiese stigterseffek, Huntington se chorea. Anne se suster, Elisabeth Prévost, wat met Philippe des Prés getroud was, het sewe seuns en vier dogters gehad. Sy was een van stammoeders van die Du Preez’s.

30. Pierre Roux
Madeleine Goirande, die vrou van Pierre Roux, 'n landbouer uit Cabrières-d’Aigues, is in 1688/9 aan boord die Wapen van Alkmaar oorlede, onderweg van Amsterdam na die Kaap. Pierre het nie weer getrou nie. Hy bly ’n tyd lank op Louis Barré se plaas La Roque in Drakenstein voordat die plaas Winterhoek in Augustus 1694 aan hom toegeken word. In 1700 keer hy terug na Amsterdam, maar is teen 1718 terug in die Kaap en koop die plaas Paarl Diamant. In 1725 vaar hy na Batavia, maar keer in 1730 terug om hom permanent aan die Kaap te vestig. Hy bemaak sy wêreldse goed aan Daniel Malan (seun van Jacques), eienaar van Morgenster, wat hom op sy oudag versorg het. Ander Hugenote wie se versorgers hulle enigste erfgename was, was Philippe Drouin (aan Gidéon Malherbe) en Jean Imbert (aan Pierre Jaubert).

VERDERE NAVORSINGSARTIKELS

BOOYENS, H.
God bless the Good ship China.

BOOYENS, H.
Pierre de Cabrières and Pierre de Belle Etoilé.

BOOYENS, H.
In search of the Soul of the Afrikaner.

DE VLEESCHAUWER, C.A.M. 1988.
Die Vlaamse Hugenote. ’n lesing gehou in die Missaksentrum vir die bevordering van die Vlaamse en Armeense kultuur op Woensdag, 23 November 1988.

RIDGE, S.G.M. 2020.
Natal Huguenot connections: the Nels.

VOS, H. 2009.
Bethlehem Farm 153 Dwars River Valley, Drakenstein: Historical survey of its owners & the early French congregation.

BLY OP HOOGTE

Teken in en ontvang ons jongste Nuusbrief en opdaterings.